Skink gerus ’n crème soda – Deborah Steinmair (Rapport) 05 Junie 2016

By admin  | 

 June 8th, 2016 | 


Dié boek is tonekrullekker, skryf Deborah Steinmair.

Rudie van Rensburg se jaarlikse misdaadroman is ’n hoogtepunt in die spanningslektuurlandskap. ’n Mens verslind dit in ’n paar gulsige happe, gryp na byvoeglike naamwoorde en kry ’n handvol beskrywings aan die stert beet: woorde waarop die skrywer van ’n kerkbasaarbiljet trots sou wees: naelbyter, snaarstyf, adrenalienfees, tonekrullekker.

Van Rensburg kombineer ondraaglike spanning en gruwelike boosheid met menslikheid en droë humor. Dis ’n uitklopkombinasie. Die skobbejakke is deurtrap en ontdaan van de laaste druppel goedheid; die protagonis, kaptein Kassie Kasselman, drink net crème soda en Rescue-medisyne en stres oor sy seëlversameling. Die siek rampokker wat die kitaar slaan, hou piranas in ’n plaasdam in Wellington aan, honger hulle uit en voer sy vyande vir hulle terwyl hy in ’n onderwater-beheerkamer toekyk – net om jou ’n idee te gee van die tipe psigopatiese sadisme wat hier ter sprake is.

Kasselman was ’n besonder geslaagde waagstuk in die Afrikaanse spanningsgenre: ’n verpotte, onooglike ventjie sonder machismo, koel of sjarme, die slegste skut in die eenheid. Hy skoffel op die maat van “Tant Jakoba se Tolbospolka” terwyl hy ’n blikkie tuna of mielies oopsny. Hy het ’n kalfslekkuif, dra alewig ’n verslete rooi windjakker, two-tone-hemp en hoogwaterbroek waaronder wit kouse uitsteek, maar hy het ’n verbete deursettingsvermoë, ’n vinnige brein en ’n paar Tarzan-moves wat niemand sien aankom nie.

In Pirana ontmoet die leser nou ook ’n karakter wat die skaal êrens tussen skurk en held trek: Jackal Williams van Mitchells Plain. Sy pa was ’n fortuinverteller wat op die voorblad van die Son en agter tralies beland het nadat hy ’n cop se eensame vrou in sy woonwa gespyker het. Jackal “is happy oor waar hy nou in sy ­lewe is: watchdog oor die drug runners van die grootste drug ring innie Kaap”. Maar dan beland hy tot oor sy ore in die moeilikheid wanneer hy by ’n ontvoering betrek word. Van Rensburg het by die bekendstelling in Pretoria bely dat Jackal net veronderstel was om ’n mindere rolletjie te speel, maar hy het eenvoudig so op die skrywer gegroei dat dié hom nie kon afmaai nie.

Van die storielyn durf ek niks verklap nie: dit handel oor bewaring, stropery, sluikhandel in renoster- en olifanthorings, Kaapse bendes, Oosterse diplomate, ontvoering en teregstelling. Daar is selfs ’n onwaarskynlike liefdesverhaal waarop Tryna du Toit trots sou wees en ’n stokou geskiedenis van onreg en wraak. Laasgenoemde storie word ver gaan haal, in Uganda, waar twee van die karakters grootgeword het. In dagboekagtige inskrywings leer ons die dryfvere en letsels van een van die twee ken. Dis op sigself ’n aangrypende verhaal. Maar wie is aan die woord?

Daar is veel op die spel. Vandat ons kleintyd cowboyflieks gekyk het, was dit nog altyd die lyding en dood van diere wat die seerste maak en die grootste verontwaardiging ontketen. So vervul die meedoënlose afmaai van renosters vir geldelike gewin die leser hier met ’n ongekende dors na vergelding. Die kierangbraaifees aan die einde stel ook nie teleur nie. Daar is boonop ’n totaal onvoorsienbare kinkel in die stert.

Van Rensburg laat dit so maklik lyk. Hy en Kasselman het hul ritme gevind en ­elke boek oortref die vorige – elke skrywer se droom. Van Rensburg het by die bekendstelling vertel die volgende manuskrip is reeds by die uitgewers. Skink die crème soda!

  • Deborah Steinmair is ’n skrywer en taalpraktisyn.

Leave a Reply


Sosiale Netwerke


css.php Top