Meer en meer hoor ek dit: “Die mense daar buite.”
Dis ’n nuwe Afrikaanse sêding, soos “aan die einde van die dag” ’n klompie jare gelede ook op die taaltoneel verskyn het (maar genadiglik deesdae minder voorkom, dink ek).
Nou die dag (amper aan die einde van daai dag) sê ’n ekonoom weer oor die radio: “En die mense daar buite besef nie in watter ekonomiese verknorsing dié land is nie.”
Wie sou die mense “daar buite” wees?
Onmiddellik kom die prentjie in my kop op van die ekonoom wat peinsend by sy kantoorvenster uittuur oor die mense onder in die straat. Dan skud hy sy kop nadenkend. Die arme mense daar buite besef nie wat op hulle wag nie. Ellendes is hulle voorland. Hulle is nie so bevoorreg soos die mense hier binne om te weet die ekonomie is op die randjie van ’n ineenstorting nie.
En dan bevraagteken ek myself onmiddellik: Is ek van die mense daar buite of van die mense hier binne?
Dit het my die hele bleddie nag wakker gehou. Toe wonder ek onwillekeurig of die mense daar buite ook slapelose nagte oor sulke nietighede beleef?
RvR – 16 Sept. 2015